‘n Aantal nuwe gedenkplaatjies gaan vanjaar deur die George Erfenistrust aangebring word by gehoue en plekke van historiese en erfenisbelang in George.

Die plaatjies by hekke en plekke in die stadskern gee besonderhede van die bepaalde gebou of kerk en is bedoel om bewustheid te skep vir die ruim erfenis van twee eeue wat George sy besondere karakter gee.

Verlede jaar het die Trust mense genooi om voorstelle te doen vir meer van hierdie mooi plaatjies.  Nou is die Trust besig met navorsing om geskiedkundige inligting oor ‘n reeks geboue en persele op te diep, byvoorbeeld uit ou grondaktes.

“Ons doen noukeurige ondersoek om seker te maak dat die inligting op die gedenkplaatjies feitelik korrek is,” sê dr Andy Lamont, voorsitter van die Erfenistrust.

Die navorsing vir gedenkplaatjies was een van die projekte wat by die jaarvergadering van die Trust bespreek is.   Die Trust het in die George-museum vergader.

By die jaarvergadering is dr Lamont eenparig herkies as voorsitter, met Henry Paine, ‘n argitek, as ondervoorsitter.  Die sekretaresse is Kathy Schulz, 082 563 7927.


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *