Die gebrek aan visie en kundigheid rondom bewaring van geboue, is lank reeds vir baie van
George se inwoners ʼn bron van kommer. Op 6 Februarie 1935, is die kommer en
ontsteltenis van die gemeenskap uitgespreek nadat die ou Meisieskool in Cathedralstraat
gesloop is (George and Knysna Herald). Op 18 Mei 1979, ná die sloping van nog ʼn historiese
gebou, The White Gables, berig die plaaslike koerant: Nog ʼn seder val in George (Herald
Phoenix :2). In Oktober 1981 word daar in dieselfde koerant kommer uitgespreek oor die
sloping van ou geboue in Hiberniastraat onder die opskrif Vanishing landmarks (Herald
Phoenix :10). Op 19 Maart 1982 word daar weer verwys na die sloping van The White
Gables onder die opskrif and another one bites the dust (Herald Phoenix:10) en op 18
Maart 2004 plaas die George Herald het Suid-Western ʼn berig getiteld Toestand van ou
geboue in kollig.
Dit is dus betreurenswaardig dat George, wat op baie gebiede as ʼn leier in die Suid-Kaap
beskou kan word, beskaamd moet staan as die stadsraad se bewaring van sy argitektoniese
kultuurerfenis met dié van sy buurdorpe vergelyk word. Volgens Thomas, ʼn argitek en
bewaringskundige van Prins Albert, moet ou geboue beskou word as monumente uit die
verlede, gebou deur vergange metodes en in vergange style. Ou geboue is tasbare
historiese dokumente en die doel van bewaring is om die argitektuur so oorspronklik as
moontlik te behou. Geboue kan nie in isolasie bestudeer word nie, maar die gebou se
bydrae tot die om-gewing moet ook in ag geneem word.
Al die geboue in die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl in George vorm saam ʼn groter eenheid
as een enkele gebou, want dit gaan hier oor die bewaring van ʼn dorp se erfenis. Erfenis is
dit wat ʼn individu, volk of nasie besit, wat aan die volgende geslag nagelaat word. Wanneer
met die term bewaring gewerk word, is dit baie belangrik om te kan bepaal watter deel of
aspek van ʼn erfenis bewaar en behou moet word en waarmee weggedoen kan word.
As gevolg van bladspasie kan daar ongelukkig nie ʼn in diepte artikel geskryf word nie, MAAR
dit is belangrik om slegs na ʼn paar konsepte kortliks te bespreek. Die konsepte kan vir
ontwikkelaars, eiendomsagente en eienaars tot groot waarde wees.
Fisiese integriteit
Volgens Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek is integriteit ‘n toestand waarin geen deel
gewysig of ingelas is of verlore gegaan het nie (VAW1961:635). In argitektuur kan integriteit
ook na die geloofwaardigheid en betroubaarheid van ʼn gebou verwys. Wanneer die term
fisiese integriteit by die bewaring van geboue gebruik word, word daar verwys na die fisiese
toestand met betrekking tot die oorspronklike vorm, dit wil sê of die gebou fisies gewysig
is en of hy tans geloofwaardigheid ten opsigte van boumateriaal en styl weerspieël.
Samevattend dus is die integriteit van ʼn voorwerp die onaantasbaarheid daarvan en sluit dit
aan by begrippe soos geloofwaardig, ongewysig, oorspronklik.
Estetiese integriteit
Die estetiese beoordeling of waarneming van geboue verskil van persoon tot persoon. Vir
een persoon kan die voorkoms van ʼn gebou aanvaarbaar wees en vir ʼn ander persoon is dit
totaal onaanvaarbaar. Die estetiese waarde van ʼn gebou is hoofsaaklik die atmosfeer en die
konteks van die gebou. Wanneer ʼn gebou dus fisiese wysigings ondergaan het, is dit nie ʼn
gegewe dat die estetiese integriteit noodwendig aangetas is nie. ʼn Navorser sou kon bevind
dat die voorkoms versteur is, maar dat die gebou daarna esteties meer aanvaarbaar is.
Historiese integriteit
Die historiese integriteit verwys na die ware geskiedenis van ʼn voorwerp en enige fisiese
verandering aan ʼn gebou kan veroorsaak dat die historiese waarde van so ʼn gebou
verander. Die proses van aanpassing van ʼn gebou wat die gebruikswaarde wysig, sal
noodwendig die historiese integriteit aantas. Wanneer ʼn ou kerkie byvoorbeeld as museum
of as hospitaal ingerig word, gaan daar iets van die historiese integriteit verlore.
Konseptuele integriteit
Wanneer dit op bewaring van argitektuur toegepas word, beteken dit dat die bewarende of
restourerende gesag moet toesien dat die geestelike waardes van ʼn leefwyse wat in die
gebou afgespeel het, in ag geneem word. Dikwels het ʼn gebou min argitektoniese waarde,
maar die gebruikswaarde of ʼn voormalige bewoner of ʼn historiese gebeure wat daaraan
gekoppel word, gee dit ʼn addisionele nie-tasbare dimensie wat ʼn belangrike rol speel. Hier
in George is die patathuis in Pacaltsdorp ʼn goeie voorbeeld. Dit het argitektoniese waarde,
maar die gebruikswaarde en historiese gebeure wat daaraan gekoppel is, is nie meer
teenwoordig nie.
Wanneer daar aan enige ou gebou verander wil word, MOET dit wat beplan word aan
bogenoemde integriteite gemeet word.
TOEPASSING VAN BEWARINGSPROSESSE
Die geboue wat in die artikels aangespreek is, is tasbare historiese rekords van ʼn spesifieke
tydperk in die land en dorp se geskiedenis en daarom het hulle bestaansreg en verdien om
as ʼn styl bewaar te word. Dit beteken nie noodwendig dat elke individuele gebou behoue sal
bly nie, maar hulle moet as eerste stap almal volgens wet (Wet no 25 van 1999, artikel 30:
Staatskoerant 28/4/99:47) in ʼn erfenisregister opgeteken word. Die geboue moet nie alleen
behou word nie, maar eienaars moet ook ingelig word oor die toepassing van die ander
bewaringsprosesse, sou dit in die toekoms nodig word.
Die bewaring van die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl-geboue in George is ʼn prioriteit, maar
kan alleenlik bewaar word as die hele gemeenskap die bewaring van die dorp se
kultuurskatte ʼn prioriteit maak. Bewaringsorganisasies, in samewerking met die plaaslike
owerheid se erfeniskomitee en kundiges uit die gemeenskap, behoort saam te werk aan ʼn
handleiding vir die bewaring van die dorp se ou geboue. Die inisiatief van die George Erfenis
Trust en ander organisasie is lofwaardig.
[In ʼn volgende artikel gaan daar gekyk word hoe om die integriteite by die
bewaring van meubels en tekstiele van toepassing kan maak – moet die nie mis
nie.]
Dr Okkie Stander, Kultuurhistorikus
Leave a Reply