Agtergrond

Nadat die Boere-republieke ná afloop van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) in die Britse Ryk opgeneem is, het die Afrikaner sy geskiedenis opnuut ontdek. Uit die volksgeskiedenis moes bindkrag vir die volk gevind word vir ʼn eie identiteit en erfenis teen die Britse kultuur-invloede. Die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl het net ná hierdie gebeurtenis in Suid-Afrika se geskiedenis
begin bloei.

Baie Suid-Afrikaners kon hulle met die herlewing van die Kaaps-Hollandse styl identifiseer, want hierdie nuwe styl het hulle aan hulle trotse verlede herinner. Dit was veral vir die Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner ʼn weerspieëling van sy behoeftes. Die assosiasie van die Afrikaner met die styl was dikwels sterker as wat die argitektoniese waarde geregverdig het. Vir baie argitekte het dit dikwels om die hergebruik van die dekoratiewe elemente gegaan en nie soseer oor die emosie wat in die argitektuur vasgevang is nie.

Die gewildheid van die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl het ná Uniewording in 1910 verder toegeneem. Die geboue in hierdie styl verskil van die historiese voorbeelde en is nie ʼn slaafse navolging van hulle stylkenmerke nie. Die styl was gewild tot voor die Tweede Wêreldoorlog.

Die invloed van Herbert Baker op die boukuns

Herbert Baker kan beskou word as een van die toonaangewende argitekte wat aan die begin van die 20ste eeu in Suid-Afrika gewerk het. Hy is in 1862 in Engeland gebore en het sy opleiding as argitek by die Argitekte Assosiasie en die Royal Academy Schools ontvang. Hy is beïnvloed deur die Arts and Crafts-Beweging van William Morris. Baker het vanaf sy jeugjare ʼn intense belangstelling in konstruksies van klip, hout en pleisterwerk gehad.

Met die koms van Baker na Suid-Afrika in 1892 het hy argitektuur in Suid-Afrika as ʼn kuns en professie gevestig. Baker het daarin geslaag om hierdie behoefte te vervul, want hy het die artistieke aanvoeling, karaktereienskappe van ʼn pionier, ideale en aanpasbaarheid gehad. Hierdie eienskappe het hom gehelp om die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl in Suid-Afrika te vestig. Die styl is deur baie van sy kollegas en assistente tot in die 1950’s laat voortleef.

Baker was verantwoordelik vir die herlewing en die herinterpretasie van die Kaaps-Hollandse boukuns en hy het daarin die moontlikheid gesien om ʼn eg Suid-Afrikaanse boukuns te ontwikkel. Hy het twee vereistes vir ʼn styl in Suid-Afrika gestel, naamlik dat die styl by Suid-Afrika se klimaat moes inpas en dat dit die argitektuur wat die koloniste aan die Kaap begin het, moes ontwikkel.

Die kenmerkendste element van die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl is die gewel. Dit is eenvoudiger as die Kaaps-Hollandse gewels en sonder oordadige versierings. In deftiger huise en in openbare geboue is soms ook van uitgesnyde boligte in die Anreith-styl gebruik gemaak. Van Baker se bekendste elemente in die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl was die gebruik van verandas en skoorstene wat ʼn asimmetriese voorkoms aan die huise gegee het, asook groot wit mure en die gebruik van ʼn sinkdak. By woonhuise en sommige openbare geboue het Baker groot tuine ontwerp. Die gebruik van Venesiaanse vensters was ook een van sy kenmerke. Ander toevoeging tot hierdie boustyl was die sinkdak bo-oor ʼn stoep wat deur betonpilare gesteun is. Die behoefte aan ʼn meer skaduryke buiteruimte het ter plaatse ontstaan omdat Suid-Afrika se klimaat soveel feller is as dié in Europa. Hierdie styl het ook gemanifesteer in spoorweggeboue, poskantore, koshuise en skoolgeboue.

Baker het ʼn groot bydrae gelewer tot die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse boukunde deur sover moontlik slegs materiaal te gebruik wat in Suid-Afrika vervaardig is. Vir hom moes argitektuur inheems wees. Enige argitektuur moet teruggevoer kan word na die oorsprong van die natuurlike bronne. Toe die bosbouershuis te Witfontein naby George in 1914 in die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl gebou is, het die bouers sandsteen vanaf Mosselbaai daarvoor aangery. Voor die koms van Baker is die meeste boumateriaal ingevoer, maar hy het bewys dat hout, glas en klip goeie boumateriaal is. Baker kan dus beskou word as die vader van die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl waarvan daar nog net ʼn paar voorbeelde in George oor is.

In die lig van bostaande word elke inwoner van George opgeroep tot die bewaring van die argitektuur in ons pragtige dorp.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *